Powered By Blogger

Sunday, 29 January 2012

Die kind lig haar vuiste (Afr. article)


Die kind lig haar vuiste
2011-06-11 06:00

            Artikelopsies
            Deel
            Kry Beeld op

Die opstand teen Afrikaans as onderrigtaal het in Junie ‘76 in Soweto begin. Foto: Bongani Mnguni, City Press


Donderdag is dit 35 jaar sedert 1976 se Soweto-opstande. Vandag worstel die jeug met ander goed en hul frustrasie lyk gans anders. Dié is waaroor jong mense vandag bekommerd en kwaad raak, en hoe hulle voel oor hul herkoms, hede en toekoms.




SY WOU MY VEL RUIK

Deur Lungiswa Nyatyowa

My ouers het onder apartheid geleef – ek dra die littekens daarvan. Dit laat my wonder oor die erfenis wat ek eendag vir my kinders sal nalaat.

Ek het nooit die diepte van rassisme verstaan totdat my pa sy ervaringe met my gedeel het nie. Voor daardie dag het ek ras nie verstaan nie. Ek het geglo ons lyk anders omdat ons verskillende tale praat. Ek het as tiener ’n wag voor my mond geplaas en toegelaat dat mense goed sê soos: “Daardie swart mense – nie jy nie – maar...”

Hoe ouer ek word, hoe meer bevraagteken ek dit. Die behoefte het ontstaan om iets terug te sê. Ek wil weet en verstaan of ons as mense van verskillende rasse mekaar werklik sien; of wit mense destyds alle swart mense gehaat het? Dra wit kinders vandag nog hul ouers se haat teenoor swart mense rond soos ek my ouers se pyn ronddra? Ons dra onwillekeurig die seer van ons ouers saam met ons, of hulle dit so wou gehad het of nie.

Die Waarheids-en-Versoeningskommissie en swart ekonomiese bemagtiging het vir sekere mense heling gebring.

Maar wat van die res van die massas wat ook geraak is, maar nooit die geleentheid gehad het om deur ’n helingsproses te gaan, of voordeel te trek ná die ontberinge van die verlede nie? Hoe laat gaan jy daardie smart as jou huidige omstandighede soveel ooreenkomste met die verlede toon; wanneer jy voortdurend herinner – en geblameer word – vir die gevolge daarvan? Ons hou aan om die stryd te veg wat nooit ons s’n was nie – een wat lankal namens ons oorwin is.

Een van my beste vriende het nie veel van swart mense geweet toe ons vyf jaar gelede ontmoet het nie. Ons het daardie dag uitgevind ons gaan saamwoon. Sy het gevra of sy my vel mag proe en ruik. Ek het nie beledig of te na gekom gevoel nie, sy wou self ontdek of alles wat sy oor swart mense gehoor het, waar was of nie. Haar nuuskierigheid was daarna verby en dit het aan haar bewys ons is nie verskillend nie.

Tog besef ek dat rassisme ’n bose mag is wat voortdurend groei en ander vorme aanneem; dis ’n spook wat Suid-Afrikaners jaag. Dit bewys dat baie mense nooit waarlik genees is nie, maar dat dit ook aangevuur word deur voortdurende ongelykheid, rasse- klassifikasie, armoede, werkloosheid en slegte dienslewering.

Ongeag die uitdagings waardeur ons in die gesig gestaar word, sal dit diversiteit wees waarin ons krag lê. Ons rasse- en kultuurverskille bemagtig ons om ons hindernisse te oorbrug en bied ons ’n unieke manier om na die wêreld te kyk en mekaar te verstaan.

As ’n jong ma droom ek van die soort land waarin ek my dogter wil grootmaak. Die belangrikste is om haar te leer om lief te hê en nie te haat nie. Ek wil haar leer om verby velkleur te kyk en om trots te wees op haar herkoms.

                        Lungiswa Nyatyowa (24) het aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer.